Mabalêl – Eugene Marais

Vinnig langs die paadjie trippel Mabalêl;
vrolik klink die liedjie
wat die klingelinge van haar enkelringe vergesel.
Op die voetpad sy alleen,
met die skadu’s om haar heen;
op haar kop die kruik gelig
in gedienstig’ ewewig.
Golwend kleur die hemelboog,
stadig sterf die laaste lig,
en van verre deur die skermmure
winkend blink die eerste vure.

Wydgestrek in eensaam’ vrede
lê Rakwen’, die stille, brede;
glansend in die westerpraal,
met ‘n ceintuur in sy diepte van koraal.
En die witgepluimde riet
sing ‘n treurig’ wiegelied,
en buigend vleg ‘n wilwersoom al om
die diepgespieëlde hemelkom.

Wag, wag, Mabelêl!
Is daar niks wat jou vertel-
is daar niks wat deur die duister
bang en dringend in jou ore fluister
van die vreeslike gesel
wat jou vrolik’ lied beluister,
wat jou spoor hou, Mabalêl?
Word jy niks gewaar
van ‘n dreigende gevaar?
Voel jy nog nie, kil en snood,
Om jou hart die skadu van die dood?

Ver benee die palmietstele
in die bloue duister wag Lalele,
kwintessens van alles boos,
die Wreedheid self, meedoënloos;
met lydsaamheid wat alles kan ontbeer,
wat tyd en toeval kan trotseer;
wat seker as die Noodlot van sy dag
stil-wakker in die diepte op sy ure wag.
Deur winterkou en somergloed,
deur blankend’ droogte en swelgend’ vloed,
deur al die kerende taf’rele,
in sy diepte wag Lalele.

As die straaltjie in die sand
deur ‘n vlam-geskroeide land
tussen walle dor en vaal
skaars die rotse van Rakwena haal,
en die hulsels van die riet
‘n rouband bind van swart verdriet
om die groenbedekte kuil
waar die laaste water skuil
en die sugtend’ wind versmag
deur ‘n woedend’ son verkrag, –
roerloos by die skepplek hou Lalele wag!

En wanneer in donker nagte
rasend losbreek al die magte
van geweld en storm en vloed,
en Rakwen’ omring van angsgeskreeu,
smagtend sig nog eens te wreek,
soos ‘n swaar gekweste leeu
swart en brullend deur die bome breek; –
blinkend uit die donker kolk, –
vlieg ‘n vlammend’ dolk, –
wat deur stormbanke dig
‘n wêreld van verwoeste loof verlig –
ongeroer deur al die groot krakele
in sy diepte wag Lalele!

Droom sy op die kantjie, Mabalêl,
tot haar hart verlangend swel;
in haar peinse ongedeer,
staar sy in die diepte neer,
staar sy in die spieëlgewelf
met die donker reeds omsoom –
tot sy, dromend, self
deel word van ‘n salig’ droom;
uit die wêreld omgekeer
lokkend lag haar beeldjie weer.

Stadig deur die rietpensele
opwaarts uit die diepte rys Lalele.

Skud jou wakker, Mabalêl!
Sien jy nie die skadu opwaarts wel?
Naar die hoogwal, Mabalêl!
Hou jou mymering vir later –
nooit had vyg of wilg in water
so ‘n gespieëlde metgesel!
Nooit ‘n skrikbeeld uit die holte van die nag,
wat die dromer sug doen na die dag;
nooit onheilige gedaante uit die diepte van die hel
half so dreigend, half so fel
as dié skadu, Mabalêl,
as dié skadu, wat benee jou
uit die diepte opwaarts wel.

Voor jou voete, Mabalêl,
deur die westergloor verhel,
waar jy onbedagsaam staar,
sonder ooit gedagte van gevaar,
uit die stroomweg stadig
dryf ‘n halfverdrinkte blaar.

Had jy spiere van ‘n tier,
of die vlerke van ‘n gier,
meidjie, niks sou dit jou baar,
want te lank het jy gewag – te laat!
Uit die spieëlvlak omhoog
bars ‘n skuimend’ waterboog;
Oor Rakwena, kalm en breed,
Galm ‘n enkel angsvol’ kreet;
en dan saggies weer
oor alles sak die stilte neer.

Winkend deur die skermmure
helder blink die voornagvure.
Uit die donker stilte, skel,
klink geroep na Mabalêl
en die rotse antwoord weer;
maar terugkom sal sy … nimmermeer.

Stadig deur die rietpensele
naar die diepte sak Lalele.

Eugene Marais

Ferrari Club @ Lalele 17 Oct 2009